Dalene Matthee

Inligting oor Dalene Matthee


Dalene MattheeDalene Matthee (1938 - 2005) (gebore Scott) is op 13 Oktober 1938 op Riversdal gebore. Sy het in1957 daar gematrikuleer, en aan die Trinity College of Music (Grahamstad), asook by die Holy Cross Convent op Graaff-Reinet musiekopleiding ontvang.

Sy het op agtienjarige ouderdom getrou met haar vriend Larius. Sy en haar man het op verskeie dorpe in die Suid-Kaap gewoon, maar meeste van hul getroude jare op George. Dalene het drie pragtige dogters grootgemaak, klavierlesse gegee, metafisiese geskrifte begin bestudeer en stadigaan so begin skryf...

Na die geboorte van haar drie dogters skryf Dalene kinderverhale vir die radio, tydskrif-en vervolgverhale.


Daleen Matthee is op 20 Februarie 2005 op die ouderdom van 66 in haar slaap in die Bayview Clinic in Mosselbaai oorlede.


Meer omtrent haar boeke:

Haar eerste boek is gepubliseer in 1970, en was 'n kinderverhaal getiteld "Die Twaalfuurstokkie". In 1982, publiseer sy beide Die Judasbok, 'n bundel kortverhale, asook haar eerste populêre roman, 'n Huis vir Nadia. Dit was egter die besonderse bekoring van die Outeniqua-bos wat haar na haar grootste sukses gelei het.


Sy het lank navorsing gedoen vir haar eerste bos-roman, Kringe in 'n Bos (1984). Sy het op verskeie geleenthede die bospaaie saam met haar gesin gestap, en snags by die verblyfplek van die olifante geslaap. "Ek woon naby die Bos. Jy ry kilometers vêr deur plase, denneplantasies en kreupelhout en jy vra jouself af: Wat het van die oerbos geword wat hier gestaan het?". Tussen vier- en vyfhonderd olifante het hierdie bos bewoon in 1886, maar teen 1972 was daar slegs twaalf van hierdie pragtige diere oor. Wat het van hulle geword, wie het hulle uitgeroei, en hoekom? Dit is as gevolg van haar soeke na antwoorde op hierdie vrae dat Dalene haar eerste bos-roman geskep het. Volgens haar het sy Kringe in 'n Bos geskryf om die waarheid daaroor te probeer vertel. Haar boek het internasionale status en sukses verwerf, is in 11 tale vertaal, en het haar die gesogte ATKV-prys besorg. Daar is ook 'n film gemaak oor die Engelse vertaling van haar boek, Circles in a Forest.


Nog twee bosboeke het gevolg: Fiela se kind (1985) en Moerbeibos (1987). Van Fiela se kind is 'n rolprent onder regie van Katinka Heyns gemaak. In 1993 het Brug van die esels verskyn en in 1995 Susters van Eva. Pieternella van die Kaap wat in Maart 2000 verskyn het, is opgevolg deur Toorbos. In 1993 word sy ook die eerste Suid-Afrikaner om die Stals Prys te ontvang -'n prys van 25 000 switserse frank (R45 000) vir die bevordering van Christelik-Westerse waardes.


Dalene Matthee se boeke is in sowat sestien tale vertaal, onder meer Frans, Duits, Spaans,Italiaans,Hebreeus en Yslands. Sy het die ATKV Prys vir goeie gewilde prosa vier keer verower, en in 1993 het sy in Zurich'n Switserse literatuurprys ontvang vir haar "lewenskragtige literere werk en haar hartstogtelike belangstelling in natuurbeskerming".


Dalene Matthee se Boeke :

Die Twaalfuurstokkie (1970)


Die Judasbok (1982)


'n Huis vir Nadia (1982)


Petronella van Aarde, Burgemeester (1983)


Kringe in 'n Bos (1984)


Fiela se Kind (1985)


Moerbeibos (1987)


Brug van Esels (1993)


Susters van Eva (1995)


Pieternella van die Kaap (2000)


Toorbos (2000)


Die Uitgespoeldes (Postuum 2005)


 


Foto van Dalene Matthee - Met Dank van NB Uitgewers