Eugene Marais

Inligting oor Eugene Marais

Eugene Marais Eugène Nielen Marais (1871-1936) was 'n skrywer in Engels en Afrikaans en was verantwoordelik vir die klassieke Afrikaanse gedig "Winternag" wat allerweë beskou word as dié eerste letterkundig betekenisvolle Afrikaanse gedig. Vanweë die politieke tydgees is daar in baie oorde gepoog om Eugène Marais as ware Afrikaner te skets en is daar skynbaar doelbewus gepoog om minder klem op sy werke in Engels te plaas.


Lewe

Eugène Marais is in Pretoria gebore op 9 Januarie 1871 in die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek. Interessant genoeg was sy ouers skynbaar beide Engelsprekend. Hy was die jongste van 13 kinders. Op 19 jarige ouderdom word hy die redakteur van Land en Volk, die enigste koerant wat President Paul Kruger se bewind teengestaan het. Op die ouderdom van 20 word hy die mede-eienaar van die koerant Land en Volk en kort daarna die alleeneienaar daarvan.


Sy vrou Aletta is in 1895 dood tydens die geboorte van hul babaseun. Marais het in 1897 by die Inner Temple in Londen begin studeer waar hy 'n graad in regsgeleerdheid vyf jaar later verwerf het. Hy het in 1902 deur Oos Afrika na Suid-Afrika teruggekeer om in die Tweede Vryheidsoorlog te veg, maar met sy aankoms het die oorlog reeds geeïndig. Daarna het hy 'n ruk lank in Pretoria vertoef voordat hy die koerant Land en Volk verkoop en in 1907 na die Waterberge verhuis het.


Eugène Marais het 'n besondere belangstelling in die Engelse literêre werke, die natuurwetenskappe (onder andere bobbejane, termiete, slange en spinnekoppe) en sielkunde gehad en het tydens sy verblyf in Londen ook tot 'n mate 'n kennis oor geneeskunde opgedoen. Dit sou hom later handig te pas kom en het hy tydens sy verblyf op die plaas Rietfontein in die Waterberge as die 'wonderdokter' bekend gestaan.


Hy het op 21 jarige ouderdom begin om morfien, die hoof aktiewe komponent van opium, te gebruik en sy lewe is gekenmerk deur 'n verbete stryd teen verslawing. Op die 29 Maart 1936 het hy selfmoord gepleeg deur homself met 'n haelgeweer te Pelindaba om die lewe te bring.


Werke deur Eugène Marais
(Lys nie volledig – soek nog na inligting oor publikasiedatums)

Burgers van die Berge (1938)
Die Huis van Vier Winde
Die Leeus van Magoeba en Ander Verhale (1934)
Die Siel van die Mier (reeks artikels wat in die Huisgenoot verskyn het tussen 1925 en 1926)
Die Siel van die Mier (boek) (1934)
Dwaalstories (Geskryf 1921, gebundel in 1927)
Laramie, die Wonderwerker
Mabalêl
My Friends the Baboons
'n Paradys van Weleer: en Ander Geskrifte
Nag: Drama in Vier Bedrywe (1937)
Natuurkundige en Wetenskaplike Studies (1928)
Spore in die Sand en Ander Vertellings
The Road to Waterberg and Other Essays
The Soul of the Ape (In 1919 voltooi, maar eers in 1969 gepubliseer)
"Waar die Blomme Geur": Toneelspel vir Kinders in Een Bedryf (1933)
Versamelde Gedigte (1933)

Winternag, die gedig

Hier volg die woorde van die bekende Winternag-gedig wat beskou word as dié eerste letterkundig betekenisvolle Afrikaanse gedig:

O koud is die windjie
en skraal,
en blink in die doflig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.
O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
Soos die lied van ‘n meisie
In haar liefde verlaat.
In elk’ grashalm se vou
blink ‘n druppel van dou,
en spoedig verbleek dit
tot ryp in die kou!

Hierdie artkel is gelisensieer onder die Vrye Dokumentasie Lisensie. Dit gebruik materiaal uit die Wikipedia artikel "Eugene Marais".